top of page

Welkom by
NG Kerk Laaiplek

Ons gemeente lê waar die Bergrivier in die Atlantiese Oseaan uitmond en sluit die kusjuwele Laaiplek en Dwarskersbos in. Laaiplek en Dwarskersbos is die koue Weskus se warm hart, en die NG Kerk Laaiplek is die polsslag van ons gemeenskap.

 

Die NG Kerk Laaiplek is in 1965 gestig en ons kerkgebou, met ‘n puik orrel, is 10 jaar later ingewy. Aanvanklik was ons hoofsaaklik ‘n vissersgemeente, saamgebind in ‘n gedeelde afhanklikheid van die genade van God vir ons oorlewing, en in ‘n onwrikbare bereidwilligheid om mekaar te ondersteun wanneer die see en die lewe rof geraak het. Met die jare het die visbronne en die werksgeleenthede in die visbedryf al minder geword. Tog leef die Weskus se kleurvolle karakter en tradisionele medemenslikheid, wat in die visbedryf gevorm is, voort in Laaiplek en Dwarskersbos. Hier is liefde vir God en ons naaste nie net ‘n Bybelse opdrag nie. Dit is ook die kern van ons dorpskultuur, gevorm en beproef deur goeie en swaar tye, en onmiskenbaar vir enige besoeker aan ons dorp.

 

Vandag groei ons dorpies vinnig en Laaiplek en Dwarskersbos raak-raak al amper aan mekaar. Elke jaar kies meer mense om hier af te tree. Hulle word gelok deur ons pragtige kus, relatiewe veiligheid en betroubare dienste. Maar hulle bly hier aan vir ons mense, vir hulle warmte, en vir ons kultuur wat onbeskaamd aan Christelike naasteliefde geanker is. Vir hulle is die NG Kerk Laaiplek die spilpunt van hulle geloofslewe en ons kerk hul vasmeerplek in die Weskus se warm hart.

PHOTO-2025-10-11-21-07-33.jpg

Ons bestuurspan

Leraar
Skriba
Finansiële beampte
Koster
Voorsitter van Kerkraad
Charl van Rensburg
Alida de Beer
Lientjie Snyman
Angela Bester
Leon Swart
Leier-ouderling
André Siebrits
bottom of page