top of page

NG Kerk Laaiplek

Ons Gemeente

IMG_5983.JPG

Bedienings

Ons afhanklikheid van God is ‘n gawe wat ons koester. Dankbaarheid vir Sy genade en Sy onvoorwaardelike liefde oorweldig ons daagliks en vuur ons aan om Hom en mekaar ook só lief te hê. Daarom werf ons siele vir Sy Koninkryk en bou ons hulle op om Sy Naam te verheerlik.

 

Met die Bybel as ons riglyn, eer ons God deur die leringe daarin uit te leef. Ons glo vas dat God alleen elke aspek van ons lewens beheer. Daardie seker wete inspireer ons om die Evangelie passievol te verkondig, sakramente te vier en geestelike groei binne onsself, ons gemeente en die breër gemeenskap te bevorder. Gewortel in die beginsels van die Hervorming, streef ons daarna om die Bybelse waarheid te handhaaf, heiligheid te bevorder en ander met liefde te dien. Ons missie berei gelowiges voor vir aanbidding, dissipelskap en om Christus se liefde met vreugde te deel. Deur gebed, gemeenskaplikheid en nakoming van God se Woord, streef ons daarna om Sy Koninkryk in elke faset van ons lewens te weerspieël.

Eredienste

Ons kom elke Sondagoggend bymekaar vir ‘n verbondsgesprek met God. Die Bybel is die middelpunt van ons eredienste. Met prediking, sang en gebed aanbid ons God. Ons hoor Sy Woord, reageer daarop en ontvang Sy genade deur die sakramente. Só versterk ons onsself en ons medegelowiges om Sy Koninkryk met nuwe ywer uit te bou. Tydens Pinkster hou ons elke dag drie dienste en met Opstandingsdag hou ons met sonsopkoms ‘n spesiale diens op die strand.

Voorsang

Om God te loof is die hoofdoel van ons bestaan en Laaiplek doen dit met oorgawe, elke Sondag voor die erediens. Só verheerlik ons God, gee ons Hom die eer wat Hom toekom, en erken ons Sy waardigheid. Ons sang erken Sy liefde en bedank Hom vir Sy skepping- en verlossingswerke. 

Vir ons jongspan

Laat die kindertjies kerk toe kom! Op Laaiplek begin elke erediens met ‘n kort boodskap vir die kleintjies, waarna die kinders na hulle onderskeie kategeselokale gaan. Elke tweede Woensdag kuier ons tieners lekker saam by die JOL (Jesus Ons Leier) byeenkomste en elke tweede Vrydag is daar Kinderkrans vir die kleintjies. Elke jaar gaan ons tieners ook met volwasse begeleiding na die #Imagine-kamp.

Vir ons senior lidmate

Die meerderheid van ons lidmate is bo sestig en ons bedienings weerspieël dit. Ons ondersteun en werk nou saam met Aan Oewer, ons Badisa-geakkrediteerde dienssentrum vir ouer persone, wat uit ons kerksaal bedryf word. Ons Diens van Barmhartigheid fokus ook spesifiek op die behoeftes van ons ouer lidmate. As jy, of iemand vir wie jy lief is, aanstap in jare, moenie alleen swaarkry of vereensaam nie. Ons wil jou graag ondersteun.

Vrouediens

Die NG Kerk Laaiplek se Vrouediens is die hart van ons gemeente. Alle vroulike lidmate is outomaties lede van ons Vrouediens. Vrouehande is gewoonlik eerste om te werk vir die kerk én uit te reik om ander te ondersteun. Van basaars tot begrafnisse, in vele aksies reg deur die jaar, ons vroue staan reg om die gemeente te lei met harde werk, insig en liefde.

Sending

In gehoorsaamheid aan Jesus en uit dankbaarheid vir God se genade ondersteun die NG Kerk Laaiplek verskeie sendingaksies. Van Mosambiek tot die oop see, van ander plattelandse gemeentes tot die strate van ons stede, Laaiplek se harte en hande is oop vir die verspreiding van God se Blye Boodskap.

Diens van Barmhartigheid

Ons leef in afhanklikheid en dankbaarheid. Daarom is dit vir ons ‘n prioriteit om ook dié wat hulp nodig het in ons gemeente te ondersteun sover ons kan. Al is dit net gesonde kos of warm klere in die winter, dis ons grootste voorreg om dié wat swaarkry te help. As jy hulp nodig het, praat met ‘n kerkraadslid, of klop aan by die Kerkkantoor.

Basaar en Feesmark

Laaiplek is beroemd vir sy lekker basaar en Feesmark wat elke jaar derduisende mense lok. Dan steun ons swaar op ons mense se kundigheid en baie jare se ervaring. Meer as 600 mense werk saam om ons basaar voortreflik te maak, noodsaaklike fondse in te samel en God te verheerlik. Met die Feesmark verander ons die kerksaal in ‘n lushof waar top uitstallers hulle produkte kan verhandel terwyl die Vrouediens ook ‘n gesellige kuiertuin bedryf.

bottom of page