
Meer oor ons
Ons ankerplek
Ons gemeente lê waar die Bergrivier in die Atlantiese Oseaan uitmond en sluit die kusjuwele Laaiplek en Dwarskersbos in. Laaiplek en Dwarskersbos is die koue Weskus se warm hart, en die NG Kerk Laaiplek is die polsslag van ons gemeenskap.
Die NG Kerk Laaiplek is in 1965 gestig en ons kerkgebou, met ‘n puik orrel, is 10 jaar later ingewy. Aanvanklik was ons hoofsaaklik ‘n vissersgemeente, saamgebind in ‘n gedeelde afhanklikheid van die genade van God vir ons oorlewing, en in ‘n onwrikbare bereidwilligheid om mekaar te ondersteun wanneer die see en die lewe rof geraak het. Met die jare het die visbronne en die werksgeleenthede in die visbedryf al minder geword. Tog leef die Weskus se kleurvolle karakter en tradisionele medemenslikheid, wat in die visbedryf gevorm is, voort in Laaiplek en Dwarskersbos. Hier is liefde vir God en ons naaste nie net ‘n Bybelse opdrag nie. Dit is ook die kern van ons dorpskultuur, gevorm en beproef deur goeie en swaar tye, en onmiskenbaar vir enige besoeker aan ons dorp.
Vandag groei ons dorpies vinnig en Laaiplek en Dwarskersbos raak-raak al amper aan mekaar. Elke jaar kies meer mense om hier af te tree. Hulle word gelok deur ons pragtige kus, relatiewe veiligheid en betroubare dienste. Maar hulle bly hier aan vir ons mense, vir hulle warmte, en vir ons kultuur wat onbeskaamd aan Christelike naasteliefde geanker is. Vir hulle is die NG Kerk Laaiplek die spilpunt van hulle geloofslewe en ons kerk hul vasmeerplek in die Weskus se warm hart.

Gemeente
Resepteboek
Ons bedienings
Hoe Laaiplek glo en kerkhou
Ons afhanklikheid van God is ‘n gawe wat ons koester. Dankbaarheid vir Sy genade en Sy onvoorwaardelike liefde oorweldig ons daagliks en vuur ons aan om Hom en mekaar ook só lief te hê. Daarom werf ons siele vir Sy Koninkryk en bou ons hulle op om Sy Naam te verheerlik.
Met die Bybel as ons riglyn, eer ons God deur die leringe daarin uit te leef. Ons glo vas dat God alleen elke aspek van ons lewens beheer. Daardie seker wete inspireer ons om die Evangelie passievol te verkondig, sakramente te vier en geestelike groei binne onsself, ons gemeente en die breër gemeenskap te bevorder. Gewortel in die beginsels van die Hervorming, streef ons daarna om die Bybelse waarheid te handhaaf, heiligheid te bevorder en ander met liefde te dien. Ons missie berei gelowiges voor vir aanbidding, dissipelskap en om Christus se liefde met vreugde te deel. Deur gebed, gemeenskaplikheid en nakoming van God se Woord, streef ons daarna om Sy Koninkryk in elke faset van ons lewens te weerspieël.
